Toskane: verlief na ‘n blitsbesoek

Toskane

“I love places that have an incredible history. I love the Italian way of life. I love the food. I love the people. I love the attitudes of Italians.” – Elton John

26 September 2018. Ons is in Italië, in Florence. Dis ʼn stad wat min slaap, in die gedeelte waar ons is, altans. As jy elke dag van jou lewe in ʼn gewone voorstedelike buurt woon, is enige geraas na tien uur saans, vreemd. So om verkeer en mense en stadsgeluide tot vroeg in die oggend te hoor, is nie iets waaraan ons gewoond is nie. Maar dis deel van die ervaring en ons geniet. Ons trek saans die luike toe en slaap heerlik. Ons besef as ons meer as Florence wil sien sal ons ʼn plan moet maak. Ons het nie ons eie kar nie, en wil ver ry, tot by Siena…. so hoe nou gemaak? Na baie wik en weeg besluit ons om ʼn dagtoer te bespreek.

Dus, ons bespreek ʼn MyTour en die volgende dag staan ons douvoordag op, vat ons rugsakke en stap 2km na die punt waar ons toerbus vertrek. Dit klink dalk nie ver nie, maar onthou, ons stap waar ons wil wees. Ons stap en stap en stap. Ek dink as ons dit sou optel sal ons verras wees met die hoeveelheid kilometers wat ons per dag stap. Aangesien die busstelsel so bietjie bo ons verstand is is voetslaan die enigste metode na enige plek. Maar stap na Sienna was uit, en ons wou so graag Toskane sien.

Dagtoer deur Toskane.

Met ons aankoms by die vertrekpunt sien ek dis so tipiese sambreeltjie toer… Maar ons opsies is beperk en as dit die manier is hoe ons Toskane gaan sien… so be it(aly)!

Nadat almal soos sardientjies in die twee dubbeldekkerbusse gelaai is vertrek ons na San Gimignano. En dit was werklik so asemrowend soos die prentjie op Pinterest belowe. San Gimignano is as ʼn UNESCO  wêrelderfenisterrein verklaar omdat dit so behoue voorbeeld van ʼn Middeleeuse dorpie is. Ons het twee ure of so gehad om die dorpie te verken en ek en Mam besluit om eers net te sit en ʼn cappuccino te drink en die atmosfeer in te slurp. Van daar loop ons deur die strate, oor die stadsmure en verkyk ons aan alles. By ʼn klein leerwinkel koop ek vir myself uiteindelik my leerhandsak. Dit iss duur, maar ek wou nie by die mark net enige iets koop nie. Ons neem foto’s in winkeldeure en voor die stadsplein se fontein. (As ek nou terugdink besef ek ons moes daai dag al baie moeg gewees het van die vorige dag se heeldag stap (deur Florence) en indrukke.)

Terug op die bus vertrek ons na die Cianto Classico streek en stop by  ʼn wynplaas waar ons middagete eet en wyn drink. Die stop is bietjie ʼn teleurstelling. Ek het so idilliese prentjie in my kop gehad, pasta en wyn op ʼn terras terwyl jy uitkyk oor die golwende heuwels van Chianti. In werklikheid is ons almal saam ingeprop in ʼn tipe eetsaal en moes ons na die wynplaas se bemarkingspraatjies luister tussen geregte deur. Die kos was darem lekker, maar ons wou regte Italië sien. 

Vandaar ry die bus na die ongelooflikste Middeleeuse fort dorpie, Monteriggioni. De hele dorpie is binne in ʼn fort gebou – dit moes destyds ongelooflik gewees het om hier te woon, en seker steeds vandag, alhoewel dit vandag uiteraard ʼn groot toeristeaantreklikheid is. Dit is in 1214 tot 1219 gebou deur die Sienese en gebruik as ‘n fort in hul oorloë teen Florence. Interessant genoeg het die fort bly staan desondanks aanvalle. Op die plein staan ‘n eenvoudige kerk, en tipiese waterfontein in die middel. Ons vertoef baie kort hier – en ons wens vir meer tyd. Eendag kom ons terug om op die plein te sit en koffie te drink. Hier koop my ma in een van die winkels die mooiste leerhandsakkie vir haar soeweniers.

Soveel indrukke in een dag en nog was dit die einde nie… Die groot stad Siënna lê nog voor. Jy kon ʼn selfbegeleide toer doen met oorfone en begeleiding wat die toermaatskappy verskaf, maar ons het besluit om dit rustig te vat. Ons het die stad te voet verken en uiteindelik in groot plein gaan sit en (rooibos)tee en wyn drink. My ma vra die kelner of hulle rooibostee op die spyskaart het. Toe hy sê nee sê sy oukei, bring maar net vir my kookwater, en haal haar eie rooibostee uit haar handsak.

Dit was ʼn lang pad terug na Florence. Baie mense op die bus het geslaap, ek het myself geforseer om wakker te bly en te kyk hoe die son sak oor die rollende heuwels. Dit was ʼn heerlike dag. Een wat ons vir altyd sal koester. Al was dit ʼn blitstoer met blitsindrukke van ʼn streek wat eintlik soos ʼn goeie wyn stadig en slukkie vir slukkie gedrink moet word.

Desondanks die blitstoer is ons gevoel oor Toskane: Veni Vidi Amavi. We came. We saw. We loved.

One thought on “Toskane: verlief na ‘n blitsbesoek

Leave a comment